Search
Close this search box.

Ontmoet die span

Die Hoof

Green School is ’n plek waar die wonder van leer, inspirasie en vreugde die kern is van alles wat ons doen. Elke kind word as ’n individu aanvaar en gerespekteer. Dit is ’n plek waar kreatiwiteit, innovasie en entrepreneurskap gedy. Welkom by ’n skool wat sy leerders en gemeenskap inspireer en toerus om doelgerig te lewe, nou en ook in die toekoms. Ons benadering tot onderwys is op 21ste eeuse leervaardighede gegrond. Behalwe vir die kurrikulum sal kinders ook leer hoe om kreatiewe denkers, aanpasbaar en innoverend te wees, en gelei word om hul besluite doelgerig te neem. 

Ons glo in dissipline en sorgvuldigheid, maar hierdie eienskappe moet self by ’n kind ontwikkel eerder as om afgedwing te word. Om ons kinders vir ’n immer veranderende wêreld voor te berei, wil ons sterk waardes by hulle kweek wat hulle sal help om ’n positiewe impak te maak. Green School is ’n skool wat sy leerders help om die vreugdes én uitdagings van ons komplekse wêreld te aanvaar. Kom besoek en ontmoet ons gerus en beleef self wat hierdie besonderse skool alles bied.

– Andy Wood, Die Hoof

Stigters

Toe ons in 2017 vir ’n semester na Green School Bali gegaan het, het ons nie besef watter groot impak die skool op ons sou hê nie – hoe fundamenteel dit ons uitkyk op opvoeding sou verander nie. Aan die een kant het ons nuwe gedagtes van ander ouers en onderwysers gehoor oor hoe mens kinders en jongmense vir die toekoms voorberei. Oor hoe die wêreld dalk oor 15 jaar gaan lyk as ons kinders die werksmark betree, en wat hulle gaan nodig hê om vervuld, suksesvol en gelukkig te wees: watter vaardighede, lewensuitkyk en begrip van die wêreld om hulle en hulle plek daarin.

Aan die ander kant het ons ’n ommekeer in ons kinders gesien: Die vreugde waarmee hulle elke oggend skool toe gegaan het, en die opwinding op ’n Sondagaand met die vooruitsig om te kon teruggaan skool toe! In die middae kon ons hulle nie van die skool wegkry nie,  hulle was te opgewonde om te kon wys wat hulle daardie dag gedoen het. Die hoeveelheid kuns, musiek en drama in ’n gewone skoolweek was ’n hoogtepunt, en hulle het baie van die weeklikse optredes voor die hele skool gehou. Meestal het hulle die skooldag as een lang speelsessie ervaar. As ouer maak dit mens natuurlik bekommerd, want dalk ís dit al wat ons kinders heeldag doen – speel. Maar in gesprekke met die onderwysers het ons besef hoeveel beplanning, voorbereiding, navorsing en suiwer passie in die kurrikulum ontwerp, die sorvuldig uitgewerkte weeklikse en daaglikse programme en die aanpasbaarheid van die program tot elke kind se vlak ingaan.

Die lae kind-tot-onderwyser ratio het ’n reuse impak op hoe individueel die leerondervinding is, en hoeveel tyd vir elke kind beskikbaar is om hulle gedagtes te deel, by te dra tot besprekings en vrae te vra. Ons glo dit het grootliks bygedra tot die vlak van die kinders se betrokkenheid in die klasse, hulle toename in nuuskierigheid oor dít wat hulle leer, en die lekkerte van iets nuuts ‘ontdek’.

Ons was ook verbaas oor die die impak wat ’n skool se argitektuur kan hê – die muurlose strukture het ’n gevoel van vryheid en kreatiwiteit bewerkstellig en almal se persepsie van wat moontlik in die ruimte is, beïnvloed. Om te sien hoe die blare in die briesie waai, te luister na die rivier in die agtergrond en natuurlike lig in die klaskamers te hê, skep regtig ’n unieke belewenis van die spasie. 

Ons is so opgewonde om hierdie konsep huis toe te bring, en ’n skool te bou wat 21ste eeuse vaardighede leer en ’n vreugdevolle leerproses tot stand bring. Om hier in ons eie vallei ’n skool te hê wat individuele identiteit versterk, ’n gemeenskapsgevoel vestig en volhoubaarheid integreer in alles wat ons doen.

Ons nooi julle as leerders, ouers, onderwysers of mede Bolandse mense, om te kom deel in die opwinding om Green School Suid-Afrika te bou.